Huldeblyk aan ‘n Onderwyser:

Ilse van Graan 
Hoërskool Sasolburg se prestasies op die atletiekbaan gedurende die sewentiger- en tagtigerjare is grootliks te danke aan die insette van Ilse van Graan.  As onderwyseres by Hoërskool Sasolburg het sy inderdaad nie net daarin geglo dat onderrig en opvoeding in die klaskamer hoort nie, want sy was onderwyseres, afrigter, motiveer-der, sielkundige en sommer net ‘n “ma” vir al haar atlete. 

Gedurende die afgelope 50-jaar reünie van Hoërskool Sasolburg was haar gewildheid onder haar eertydse atlete baie duidelik.  Almal was ontsettend bly om haar weer te sien en kon nie genoeg gesels en lag oor die ou dae nie.  

Juffrou Ilse dit wat jy vir my as ‘n jong tiener geleer en beteken het, sal ek nooit vergeet nie, ek probeer dit nou juis vir my atlete leer.  Jy het my geleer dat jy niks in die lewe verniet kry nie, maar ook dat jy vir jouself doelwitte moet stel en dat as jy werklik glo dat iets moontlik is en jy werk daarvoor, jy enige iets kan vermag.  Jy het my talent raakgesien en met jou briljante atletiekkennis my gehelp om die beste te word waartoe ek op daardie stadium instaat was.  

Juffrou Ilse baie dankie vir dit wat jy vir my beteken het, jy sal altyd deel van my bly!!

Ermyntrude Vermeulen (Foord)


Ilse van Graan

Graag wil ek ook hulde bring aan Ilse van Graan. Ek het haar eerstens leer ken as afrigter en toe as L.O. onderwyseres en toe as vriedin. As 'n kind enige talent het, het sy die vermoë om dit uit te bring in prestasie. Sal ek die dag in st. 6 vergeet toe sy my gemotiveer het om oor die "bok" te spring. As ek dit sou reg kry, kom die hele klas die volgende periode... afkry? Kan nie die beloning onthou nie, maar daardie dag het sy my geleer dat 'n mens se vermoë strek ver bo dit wat jy dink jy kan doen.

Sy het altyd iets gekry om ons oor op te hemel. Was dit 'n prestasie, 'n antwoord in eksamen, 'n beste na jou vermoë op die baan, 'n seun se oog op jou, 'n hartseer in jou oog...sy het niks gemis nie. Ook was sy daar as jy reggehelp moes word, maar nooit sonder liefde en hoop nie. Dit het gevoel of sy deur 'n vuur vir jou sal gaan. Ek onthou ook hoe sy en Juf. Gie vir ons prawns gaargemaak het of fondu gehou het, seker uit hul eie sakke.

Op 'n meer persoonlike noot, sy was die persoon vir wie ek gehardloop het. Nooit het ek weggespring sonder om eers haar hand vir my te sien waai nie. Ek het in haar geglo soos sy in my geglo het.

Met die onlangse reunie in Mei 2004, was ek verbaas te hoor hoe goed sy nog al haar atlete van 20-30 jaar gelede se detail kan onthou. Juf. Ilse, jy het van ons wenners gemaak, en al die tyd was jy die wenner. Dankie Juffrou!

Helette Pieterse (Bouwer) Matriek 1982


Mnr Willie Nel

Ek wil graag hulde bring aan Mnr Willie Nel. Dit was met groot hartseer dat ek gelees het van sy heengaan. Mnr Nel het vir my ontsaglik baie beteken. Hy was nie altyd die maklikste mens nie, maar as jy jou kant gebring het, was hy bereid om ure in te sit om jou te help. Ek het wiskunde en rekenaarstudie by hom gehad en die fondasies wat hy neergelê het is vandag nog daar. Dit is in sy klas dat ek my passie vir programmeering ontdek het en op sy subtiele manier het hy daardie passie aangevuur. Vandag onthou ek hoe hy ons aangespoor het om altyd beter te wees. Die absolute oortuiging waarmee hy sy werk aangepak het bly steeds by my en baie van my besluite sedert matriek was gebasseer op wat ek by hom geleer het. Mnr Nel: jy het ten minste een persoon diep aangeraak – rus in vrede.

Nadia Stekelenburg (Matriek 2000)


WILLIE NEL: OORLEDE 3 NOVEMBER 2007

Die huidige personeel en leerlinge van Hoërskool Sasolburg neem met gemengde gevoelens afskeid van een van sy ankerpunte van die verlede. Dit is wel bekend dat Willie se hele lewe om die skool gedraai het en daar is talle bewyse dat hy dikwels die skool se belange bo sy eie gestel het, soos bv. om na sy aftrede klasse te kom behartig toe probleme ondervind is om ’n geskikte personeellid in sy spesialiteitsvak te vind. Ons groet dus ’n vriend met hartseer.

Aan die ander kant groet ons hom met dankbaarheid. Eerstens is ons dankbaar dat hy vir soveel jare sy besondere onderwystalent tot beskikking van die skool kon stel, maar is ook dankbaar dat sy tyd van lyding verby is en hy ‘n pynlose rus kon ingaan.

Psalm 139, vers 16: “U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe voordat ek gebore is”. As gelowiges moet hierdie woorde dan as troos dien in die tyd van hartseer oor Willie se dood. Willie Nel se lewensdae was opgeskryf tot Saterdag, 3 November 2007.

Teen dieselfde agtergrond moet ons ook glo dat ’n vrou soos Hettie deur die beskikking van die Here op die pad saam met Willie geplaas is, sodat hy tot aan die einde van sy lewe onder die liefdevolle versorging en ondersteuning van haar kon wees en daardeur vir elkeen van ons as ’n navolgenswaardige voorbeeld kon dien van die uitlewing in praktyk van die beloftes wat ons elkeen voor die kansel maak tydens ons huweliksbevestiging. Die Here het hom as bonus ook geseën met die vaderskap van drie talentvolle kinders op wie hy tot aan die einde trots kon wees.

Willie het hierdie wêreld liggaamlik verlaat, maar sal vir ewig voortleef in gesprekke tydens re-unies, in die toewyding van die personeel in die vakgebiede waarvan hy aan die hoof gestaan het en in die bepaling van die gees en rigting van die skool waartoe hy met sy wysheid en insig soveel bygedra het.

KALOL MULLER
SKOOLHOOF


Willie Nel – ’n onderwyser uit een stuk

Dit was in 1979 dat ons wykinspekteur ons skool besoek het. Juis in dié tyd was ons naarstiglik op soek na ’n goeie Wiskunde-onderwyser. Op my vraag aan die inspekteur of hy nie weet van ’n goeie onderwyser nie, was sy antwoord: “Op Wepener is daar die beste Wiskunde-onderwyser – hy wil juis graag ’n skuif maak.”

So het dit dan gekom dat ons vir Willie Nel die pos as adjunkprinsipaal aanbied. Hy aanvaar die pos en bring toe vir Hettie saam wat net so ’n bekwame Skeinat-onderwyseres was.

Willie het dadelik getoon dat wat van hom gesê was in die kol is. Sy leerlinge het gou vertel van die streng tot uiters bekwame onderwyser wat hy is. Sy resultate het na drie jaar getoon dat sy gelyke nie in die Vrystaat te vinde is nie.

Met die koms van die nuwe tegnologie van rekenaars en rekenaarwetenskap was Willie Nel dadelik gereed om die wonder tegnologie te bemeester. Met behulp van buitemuurse studie by Potchefstroom se Universiteit het hy homself bekwaam in die vak. Rekenaarstudie is ook dadelik by ons skool ingevoer. Baie gou het Willie homself bewys as die voorste onderwyser op die gebied. Die eksamenuitslae van Hoërskool Sasolburg was by verre die beste in die provinsie.

Willie het op ander terreine nie geskroom om sy gewig ten volle in te gooi nie. As spiesgooi- en gewigstootafrigter het hy uitstekend werk vir baie jare gelewer.

Willie en Hettie was vir baie jare tot hulle aftrede twee jaar gelede getroue metgeselle jaarliks by die Magoebaskamp.

Hoërskool Sasolburg betreur sy heengaan. Hy was ’n man wat tien talente ontvang het en daarmee gewoeker het in diens van ons kinders van die skool. Graag sal ’n mens wonder hoeveel ingenieurs en ander wetenskaplikes daar vandag in die land is wat hulle stewige wiskunde en rekenaarwetenskap grondslag van Willie ontvang het.

Ons as kollegas, vriende en oudskoliere bring ons hulde aan ’n oudonderwyser soos min. Ons wil graag ons innige meegevoel betuig aan Hettie, sy vrou, en haar drie kinders, Herman, Miné en Willie.

Sam H Pellissier

Oudskoolhoof en kollega

Kenton-on-Sea

5 Nov. 2007

 


Mev "Ma" Alexander

Baie van ons Afrikaanse ouens het maar swaar gekry met die Engels in die jare toe ek in Hoërskool Sasolburg was, nl 1967 - 1971. Hoewel ons van ons laerskooldae af in Noordskool aan Engels blootgestel is, was hoërskool-Engels 'n wilde perd van 'n ander kleur!

Om dan boonop vir Ma Alexander as Engels onderwyser te kry, het menige skoolkind se broek laat bewe. Sy was so kwaai dat selfs dié klonge wat 'n probleem met die tong gehad het vinnig moes leer om nie "wif" te sê nie, maar "with" en nie "I are" nie, maar "I am".

Ek sal haar altyd onthou as 'n amper Miss Marple-figuur: netjiese loopskoene, lieflike ligbruin krulhare en dan die vlermuisbrilletjie waaroor sy baie omgekrap kon loer. Maar met 'n intense liefde vir die Britse Taal wat ons almal teen wil en dank aangesteek het!

Dié van ons wat nie voorheen Engels gelees het nie, was vinnig besig om voorgeskrewe boeke soos "Sea Hawk" en "The old man and the sea" te verslind. Werke van Nadine Gordimer het interessante leesstof geword en romantiese digters soos Lord Byron en Oscar Wilde het ons jong harte gesteel. En wie het nie totaal verlief geraak op Herman Charles Bosman se satire nie? Oom Schalk Lourens het lewendig geword en 'n liefde vir lees ook by die laaste kallers in die Engels-kraal gekweek.

Mrs Alexander kon dalk nie verstaan waar die skielike belangstelling in Shakespeare vandaan gekom het nie. Die feit dat films soos Romeo and Juliette met Leonard Whiting en Olivia Hussey in die hoofrolle, terselfdertyd in ons plaaslike fliek begin draai het (en meisiekinders met rooigehuilde oë en bondels Kleenex in die vuiste na buite laat strompel het), het Ma se moeilike taak voorwaar ook bevorder. 

Ook moes sy meer as een keer aan ons die betekenis van "wild 60's music" lirieke verduidelik, en ek onthou veral 'n frase uit Simon and Garfunkel se Sound of Silence wat ons tieners nie reg verstaan het nie.  

En toe is ons skielik in Matriek. Ons leer haar waardeer en verstaan... en liefkry. Haar sin vir humor bly my altyd by. "Stephanie, you and Anél are a deadly combination," nadat ek en my beste vriendin Anél Stockwell (néé Lombard) weer 'n slag uit ons velle in die klas is. Maar, ons skryf vir haar die mooiste opstelle, leer die taal reg praat en kom Engels goed deur - en weet nou dis al wat sy wou bereik!

Vandag is Anél al amper 'n jaar nie meer met ons nie en my hart is nog rou. Maar die herinneringe aan die 47 jaar wat ons vriende was, ons skooldae in Sasolburg en al die wonderlike tye saam maak die las effens ligter. Ons het deur die jare baie nostalgiese oomblikke oor ons skooljare beleef, en Ma Alexander was een van dié onderwysers wat deur beide van ons hoog geag is. Sy was in hart en siel 'n opvoeder en het die gees van die jong mens verstaan. Hoe bevoorreg was ons nie! 

Stephanie Turner (néé Els)

Matriek 1971

(Datum ingestuur: 22/02/08)